Thursday 12 November 2015

Waarin ek bietjie kerm oor ons jaarnbedryf

Daar's iets wat te groot is vir my brein, ek wil dit nie verstaan nie.

Ons jaarn-industrie beleef 'n kleinerige ontploffing, in die sin dat ons meer en mooier jaarns beskikbaar het as in 'n baie lang tyd. 

Ons jaarn-industrie is soos 'n baba  wat nie floreer nie, al kry hy bottels en bottels moedersmelk...As jy nie in Pretoria of Johannesburg of Kaapstad is nie, of 'n goeie internetverbinding en bietjie meer as savvy het nie - gaan jy nie weet van 'n kwart nie. 

Ons woon in 'n land wat wol uitvoer, na ander lande toe , waar dit gekleur word en 'n etiket kry...en ons koop dit ten duurste (as ons dit in die hande kan kry!) as Madeline Tosh.   

Ons hekelaars gaan na die wolwinkels op die dorp en daar's net akriel, en die verkoopsdame trek haar skouers op, sy weet nie van iets anders of beter, en stel ook nie belang nie. 

Die wolwinkeleienaar probeer, sy wys die nuwe mooi merino of katoen...nee dankie, en links swenk hul na die rak met klipharde oranje plastiek.

Of mense stéel die wol! Maar net die goeies.

Ons oumas wil nét met Mirage hekel, want hul doen dit al 60 jr lank, en "dis sterk en dit hou". 

'n Vrou vra waar kan sy mooi, goedkoop wol vir haar ma koop, want dié kry swaar...maar sy is nie bereid om met haar Queenspark-pakkie in haar Mercedes te klim en drie blokke verder ordentlike, plaaslike gekleurde, natuurlike vesel te gaan koop nie, want dis darem duur.  
Ag vrekkit, nie eens Pure Gold nie. 

Dis darem net te duur vir haar. 

-0-

Ek het dié week beleef hoe 'n vrou kom kyk wat ek doen daar langs die swemles. Sy voel-voel so aan my werk (sy kan bietjie brei, sê sy) en vra - maar wat is dié? Dis régte wol, nè? (Vinnis Bambi).
Ek verduidelik van bamboes/katoenmengsel en sy kan dit nie glo nie, hoe mooi dit is, hoe sag dit voel, die ongelooflike mooi effek wat daardie jaarn het nie.

Ongelukkig word Bambi opgeskort, om welke rede ook al, ons verloor een van ons mooiste jaarns in die mark.  

-0-

Ek het kratte vol van die mooiste jaarns - merino,  sybokhaar, katoen, bamboes, mengsels, linne dunnes, dikkes, ek vertel waar ek dit koop of bestel - ek wys dit graag vir enigeen, sodat hul kan sién wat is beskikbaar, selfs met ons swak rand kán ons móoi jaarn koop...maar dis nie hier,  aan die Tuinroete, in winkels nie.  Net nie beskikbaar nie.  Of dis net by aanlynwinkels, maar dis 'n gesukkel, want sy het nie internet nie, of 'n kredietkaart nie, of weet nie hoe nie, of die aanlynwinkel is maar leeg, of nie opgedateer nie. 

Of die leweransier wil nie vir hierdie een winkel lewer nie weens watse rede ookal, maar sal net vir 'n ander.  

Of daar is 'n grote warehouse vol jaarn, maar die natuurlikes sit so in die hoekietjie.

Of ons ry maar oor die berg vir die volle keuse van African Expressions.  

Régtig??  Kan ons dit bekostig?

Ons sit in die middel van 'n hekelgier soos wat daar seker die ontstaan van die granny square seker nog nie was nie, maar dit gaan - ongelukkig - nie vir altyd hou nie.  Onthou kraletjiewinkels - waar is hulle nou?  Soos enige ander gier, gaan hekel ook oorwaai, en dan gaan net die ware hekelaars oorbly - en as ons jaarnbedryf nie gesond is nie, gaan hy afsterf, gaan die verskaffers moet deure toemaak.  Sorry to say - as jy nie genoeg ondersteuners het (lees kliënte, wat kóop) nie, gaan jy moet oppak en sê dit was nou lekker. 

Hoe bitter jammer sal dit nie wees nie.  

Daar is nie plek vir eksklusiwiteit, of 'n gebrek aan besigheidsin, of laksheid, of ek-help-vir-jou-maar-nie-vir-jou nie.  Die bedryf is te klein.  Ons is te min wat jaarn koop. Ons is te min wat goeie jaarn koop.  Ons sal 'n kultuur moet kweek, 'n bewustheid van kwaliteit, en die waarde van natuurlike, éie produkte.

Ek kyk wolle op oorsese webblaaie, hul aanlynwinkels, ek sien die mooiste goed daar - duur wel, ja, maar die verskeidenheid!  En dan is Swede 'n derde van die grootte van Suid-Afrika.


Ek weet nie hoe gaan ons hierdie skip draai nie. 


So wat doen ek? Ek maak vriende met my plaaslike LYS.  Sy kan vir my wolle bestel, die wat ek nie self kan of wil bestel van elders nie.  Haar winkel is klein, maar sy ken haar storie, en haar jaarn.  Of ek ry oor die berg vir die wat sy nie kan kry nie.  En verder - kom ek daarsonder klaar.  Of dit moet wag tot ek eendag weer voor 'n rak elders kan gaan staan.

Monday 20 July 2015

Die koste van patroondiefstal


Hier is 'n baie vereenvoudigde voorbeeld van die implikasies van patroondiefstal:

Verbeel jou Petro Patroon, 'n tuisblyma/deeltydse/werker, of selfs voltyds.  Sy hekel/brei graag en ontwerp patrone om hul inkomste aan te vul/bydrae te lewer tot die huishouding/te oorleef/spaar vir 'n oorsese reis.  Sy verkoop haar patrone teen R20 aanlyn. 


Hanneli Hekel koop een patroon by haar.  R20.  Dis 'n heerlike patroon, goed uitgedink, goed geskryf, daar's stap-vir-stap fotos (of nie), sy  hekel 'n mooie ding van die patroon.  Nou wil sy dit met haar vriendinne deel.  Sy gee vir haar koffiedrink-vriend 'n afskrif.  Dis nie die einde van die wêreld nie, dis net R20 se verlies vir Petro Patroon (want koffievriendin koop mos nou nie). 


Maar nou voel sy op die hart gedruk om dit nog verder te deel, op haar liewe hekelgroepie.  Sy scan dit en laai op, binne ure download 50 lede die patroon.

R20 X 50 lede = R1000.  Wat Petro Patroon nou nie kry nie.  Dus verlies aan inkomste.  

Maar dit stop nie daar nie.  Net tien van daardie mense email die patroon vir tien ander mense ook.  

10 X 10 = 100 mense.


R20 X 100 = R2000.  Wat Petro ook nie kry nie, dus verdere verlies aan potensië inkomste.  

Een oulike dame deel dit op 'n internasionale hekelgroep.  500 mense laai dit af binne die eerste dag. 

R20 X 500 = R10 000.

Binne enkel ure/dag of twee nadat Hanneli Hekel so mededeelsaam was, het 650 mense nou die patroon gratis gekry!

Maar Petro Patroon het nie die R13 000 se inkoste gekry wat sy op geregtig is nie, teen R20 per patroon. 

Nou kan sy nie meer oorsee gaan nie. 

Of sy kan nie vir die kinders skoolklere koop of vir die skooltoer betaal nie.
Of sy kan nie die huishuur betaal nie of kos koop nie. 

Nou verloor sy haar huurhuis.  Of die kinders gaan honger skool toe.  Of sy kan nie medisyne koop nie.

Maar dis als reg, want Hanneli het genoeg omgegee om die patroon met aaalmal te deel, want dit is die regte, onselfsugtige, mededeelsame, Christelike ding om te doen. 

En DIT is waarom ons op Ons Hekel kopiereg respekteer, ongeag of 'n patroon uit 'n boek kom, 'n tydskrif, uit 'n aanlyn winkel, van 'n blog.

As dit gratis is, gee ons die  blog/webwerfskakel
(en so deel ons die pad na patrone met die grootste liefde).

As dit gekoop is, gee ons die tydskrif of boek se naam, of die aanlynwinkel of Ravelry-skakel.

En ons verstaan redelikheid, en die waarde van wetgewing, en stry nie daarteen nie, want dis iets wat in plek is om die samelewing teen homself te beskerm.

So beskerm ons die ontwerper, wat dan kan voortgaan om nog mooi patrone te kan ontwerp, en dit selfs nou en dan gratis sal weggee. 

Thursday 19 February 2015

'n Vrou koop Wol


Gistermiddag is my eerste pakkie wol al die pad vanaf Istanbul, Turkye, reg by my voordeur afgelewer.  Nege dae vanaf die laaste kliek met my muis, via London, via Johannesburg, weer op 'n vliegtuig George toe, en die pakkie agterin 'n trok (!) tot hier by my. 

En dit alles teen goedkoper as enigiets wat ek hier ter plaatse kon koop..

Dis nou in 100% wol, nè.


 Hier is dit!


My lang-beplande winterkombers kom al 'n lang pad.  Eers sou dit die Great Romany Blanket wees, n.a.v.'n dekorartikel in dié styl.  Mosaieksteek, als in bont, (semi)-helder kleure, beste kwaliteit wat ek kan kry.  Siende dat 100% wol nie die goedkoopste ding op straat is nie, (of by elke tweede winkel beskikbaar nie!), koop ek twee bolletjies hier, vier bolletjies daar, een op 'n slag.  Hier merino, daar African Expressions, bietjie One of a Kind, en so gaan ek aan.  Ek sien ek sal moet aanvul met mengsels, so my standaard gaan af tot 50% wol.  Ek begin solank werk, ek hékel daardie mosaïeke.  Dit raak warm en ek sit eers neer, en maande later is die kleure nie meer mooi nie, nou hou ek nie meer van die samestelling nie.  Sal ek uittrek, sal ek aangaan?  Ek stop net daar, verklaar dit 'n lang, smal (wel amper 1m breë) TV-kombers - jy kan jouself behoorlik daarin toedraai - en begin weer.

Nou gooi ek die perse en pienke uit, daar was te veel, ook die gele wat bietjie te mostert raak.  Meer groen en blou.  Dis Yarn Indaba en ek kóop!  Cowgirl Blues, Karoo Moon, maar net 'n handvol op 'n slag, nè, dis 'n paar rand daai.  So word die krat weer stelselmatig vol, ek gooi die mengsels uit.

Toe kyk ek dit so en op die impuls van die oomblik besluit ek op 'n ander patroon, die een met miljuisende ffrafels.  Niks meer van eenvoudige, min kleurveranderinge nie, nee, Flowers in the Snow sal dit wees, want ek is mal oor die hegting (kyk, dis nie dieselfde JAYG as Attic 24 s'n nie).  maar watter agtergrond kleur?  Want ek wil nie wit hė nie.  Ook nie blou nie, dis te koel, en die kamer is klaar koel en dis koud in die winter as dit reën.  Visueel moet dit ook warmer wees.

Alice se Gypsy Caravan Blanket is altyd in my agterkop, die beautifulste ongekleurde wol, so natuurlike bruingrys, maar waar, o waar, kry mens dit hier?

Ek skrop weer deur die krat, en gryp die éen grys bolletjie Rowan Cocoon wat ek het...dis supersag, dis 'n mooi grys, dít gaan werk!  Ja, hekel gou 'n sample-blokkie, en dis perfek, maar ek onthou die prys, dit was hier rondom R180 vir die bol!

Vir die eerste keer doen ek somme. Trek die laaste grys randjie uit, meet die string wol...dis net oor die 7m vir rondte 4.

Vermenigvuldig met 288 blokkies (want ek meet toe eers die blokkie, en die bed, en doen daai som ook...).  Kyk na die meters op die bol en hoeveel blokkies ek daaruit gaan kry...en daar moet nog 'n mooi rand ook gehekel word...nou lyk dit al na hier by die 26 bolle.

x R180.

Soos my man sê - hierdie kite gaan nie vlieg nie.  Want die wolle moet nog uit Ingeland uit kom.

So ek begin soek ter plaatse.  Hier is tog mooi wol, met 80% merino en 20% mohair?  Ja hier is, maar dis 'n 'flat' loodgrys. Hier's nog mooi 100% sagte DK, maar dis net té gespikkel.  Ek kry nog een, bietjie lig, die grys, maar daar's darem bruinerig ook in...maar dis hard, en werk amper dieselfde uit.  Nêrens gaan ek genoeg op een slag van een batch kry nie.

Ek is déur die online winkels.

Ek is déur die alternatiewe en plan B's in my kop.  Sal ek iemand vra of hul nie lus het om vir my, spesiaal, 28 bolle te kleur nie...?

Ek's naderhand so moedeloos, ek's sommer terug in die krat.  Sal ek nie 'n ander kleur as rand gebruik nie?  Gryp my peperduur Malabrigo en begin hul ook in die blokkies gebruik (hoekom nie?  Dis so sag, dis so mooi, ek breek al klaar die bank).

En toe een aand kom Yarnshop se skakel weer verby op Faceboek, en hierdie keer sien ek dadelik die regte grys en dis 100% wol en ek hét nou al gehoor die mense is tevrede en dis Baie Beter Op Die Sak.


4 in 'n pak. x7. En die prys is reg.


Net daar bestel ek dit.  28 bolle x 100g.  Skooltruigrys, noem ek dit.  Dis nie so sag soos die Cocoon nie, dis waar, maar dis sag genoeg.  Die kleur is reg.  Daar's genoeg in voorraad, meer as wat ek wil hê.

Die prys is reg.


En net daar kliek my muis en daar kom my wol van doer ver af.


Hier kom 'n winterkombers.


Volgende keer koop ek weer Proudly South African, maar dié keer het die beursie harder gepraat.


-- 0 --

Intussen, as jy plaaslik wil bestel...ons het hope mooi wol om uit te kies! Ek het byna van elkeen 'n bolletjie wat in my kombers gaan verskyn.  En hier is ons aanlyn-winkels, soos ek hul kon bymekaarkry - laat weet gerus en asb indien ek iemand uitgelaat het: