Friday 15 August 2014

Ons Hekel nou ook in Blogland!

So drie jaar gelede ontstaan "Ons Hekel" op Facebook, 'n groep gebore uit desperaatheid, in die hoop om net iéwers ook inligting oor plaaslike wolle, winkels, patrone, ander ménse wat hekel, te kry!  Dis aan die vooraand van 'n langnaweek, maar ek spring aan die diepkant in met 'n pas-ontmoete virtuele hekelvriendin in London, registreer die groep, en gooi die inligting uit op ons eie profiele.  

Die eerste aand is daar 10 lede, die einde van die naweek 50 en vandag, op byna 8000 is die aansoeklys vir eers gesluit.  Ons Hekel het uit sy eie nate gegroei.  

Dis 'n heerlike groep, 'n plek waar ek daagliks soveel inspirasie kry, waar ek soveel hekelvriendinne ontmoet het - virtueel en oor koffie.  Ons hekel saam op enige plek in die land, oor vastelande en tale - in die vorige Page weergawe was daaar 18 tale verteenwoordig!  Ons reël kuiers en saamhekels, klein en groot projekte, en was pas deel van die suksesvolle eerste Yarn Indaba in Pretoria, wat hopelik 'n permanente instelling gaan word.  

Omdat Ons Hekel so vinnig groei, het dit nodig geword vir 'n meer permanente blad waar skakels maklik bereikbaar bly en nie binne 'n dag verdwyn in die vergetelheid van die Timeline nie.  Die dokumente in Ons Hekel se Files sal dus mettertyd hierheen oorgedra word om makliker te skakel en inligting beter bereikbaar te hou. Ons Hekel Blog sal groei soos die behoefte lei, en hopelik volwaardig langs Ons Hekel Groep staan.  

 En wie onthou hierdie artikel? 


Idees Junie 2013
www.idees.co.za


Dit was 'n oggend van gróot pret en lekker kuier...die blommetjieserpie wat moet Duitsland toe gaan is steeds nie klaar nie, die camou-wol is wel suksesvol in drie beanies omgetower, Gerlene is daardie aand terug Ierland toe, Marlene en Esté lag lekker want die Yarn Indaba is daar nog 'n groot geheim en die lysie met blogs, FB-blaaie en aanlynwinkels is al veel langer.  En wie weet nou al wie is Liana?








Ons wag op nog skryfwerk uit jou pen, Ansie!


Ek sien jul weer hier :-)

C